
Monument van Krugersdorp se Wit Bulle kon nog net vier keer sedert 1997 daarin slaag om vir Helpmekaar Kollege ore aan te sit.
Interresant is die feit dat die enigste afrigter van die Wit Bulle wat in hierdie tydperk daarin kon slaag om die Helpies te klop, Tjaart van der Walt, is. Van der Walt staan deesdae aan stuur van Helpies se rugbyprogram.
En na verlede jaar se nederlaag van 43-53 op die Ras van Rooyen-veld sal Monument se afrigters, Jannie du Plessis en Reinhard Gerber, presies weet hoe moeilik hul ontmoeting om 12:30 Saterdag in die Virseker Noordvaal Cup se Beker-afdeling met Helpmekaar sal wees.
Die Wit Bulle is egter vanjaar ‘n ander span. Hulle het oorwinnings in hul laaste agt kragmetings behaal. Die span het verlede week vir Jeppe High School for Boys met 47-29 in ‘n King Price Derby Series kragmeting kaf gedraf.
Monnas is ook onoorwonne in vanjaar se Beker-afdeling na klinkende sege oor EG Jansen (85-19) en Noordheuwel (41-15). Die Helpies se enigste sege in vanjaar se reeks het hy verlede week oor die Jansies met 36-24 behaal.
Dit is jammer dat die Leeus se Cravenweek-skrumskakel, Shaye Lourens, op losskakel vir Helpies moet uitdraf. ‘n Tweestryd met verlede jaar se Suid-Afrikaanse Skole-skrumskakel, Morné Noble, kon een van die hoogtepunte van die naweek se skolerugby gewees het.
Noble was die afgelope paar weke vuurwarm vir die Wit Bulle. Hy was as Speler van die Wedstryd in al drie van sy span laaste kragmetings teen onderskeidelik EG Jansen, Noordheuwel en Jeppe aangewys. Hy kan wel steeds goeie teenstand van Helpies se John van Druten verwag.
Van Druten se pa, ook John, het die Wit Bulle en die Leeus se Cravenweek-span in 1999 verteenwoordig. Gerber was ook ‘n lid van die span, saam met ander bekende name soos Quintin Geldenhuys (Italië) en Jorrie Muller (Springbokke).
Helpies kan die pyp rook indien sy span se agterhoede genoeg balbesit kry. Buiten die Lourens-tweeling, Ethan en Shaye, hou die Van Druten, Xander van Niekerk (heelagter) en die linkervleuel, Zuan Krige, daarvan om met die bal te hardloop.
Monnas se agttal met Siya Ncube (flank), Ryno van der Westhuizen (kaptein en agtsteman) asook die reuse slot, Hanco van Geelen, kan egter ‘n stokkie hiervoor steek.
Noordheuwel se Blues speel gasheer vir EG Jansen in ‘n kragmeting wat vir albei spanne van uiterste belang is. Die Nories het nog nie die soet smaak van ‘n sege in vanjaar se reeks geproe nie.
Die span wat deur Stefan “Botter” Lourens gebrei word, is veel beter as wat hierdie stukkie statistiek aandui. Die span het boonop verlede week in sy nederlaag van 17-44 teen die pasaangeër in die reeks, Garsfontein, gewys dat hy met tye goeie rugby kan opdis.
Die tweestryd tussen die twee kapteins, Jaco Engelbrecht (EG Jansen) en Kean Lourens (Noordheuwel), aan die kant van die skrum behoort vir heelwat hoogtepunte te sorg.
Die stryd tussen die twee losskakels behoort ook vurig te wees. EG se Juan van Aswegen was tot dusver een van sy span se groot staatmakers, terwyl Kieran Reid gewoonlik op senter uitdraf, maar vir Heinrich Smith teen die Blues moet instaan.
Die spanne is:
Helpmekaar Kollege t. Monument om 12:30 in Johannesburg:
Helpmekaar: 15 Xander van Niekerk, 14 Ruben Coetzee, 13 Daniel Kelbrick, 12 Ethan Lourens, 11 Zuan Krige, 10 Shaye Lourens, 9 John van Druten, 8 Ruann Bester, 7 Xander Jackson, 6 Llewelyn Vermaak, 5 Dewald du Preez, 4 Diandro Botha, 3 Karlo Steenkamp, 2 Jeandré van der Merwe, 1 Daylan Ferreira.
Monument: 15 Logan Langeveldt, 14 Migael Coetzee, 13 Blessing Moraneng, 12 Juandré Ehlers, 11 Ruan Genis, 10 Jayden Viljoen, 9 Morné Noble, 8 Ryno van der Westhuizen (kaptein), 7 Roché Botha, 6 Siya Ncube, 5 Hanco van Geelen, 4 Matthew van Deventer, 3 Ben van Wyk, 2 Jayden Nel, 1 Dexter Chiwanga.
Skeidsregter: Austin Richardson.
Noordheuwel t. EG Jansen om 13:00 in Krugersdorp:
Noordheuwel: 15 Wilcu Roos, 14 Edwill October, 13 Tristan Helmund, 12 Armand Coetzee, 11 Prince Agu, 10 Kieran Reid, 9 SW de Waal, 8 Armand van Eck, 7 Kean Lourens (kaptein), 6 JB Blaunt, 5 Robert Hurn, 4 Jared Coetzer, 3 Steph Botha, 2 Miguel Elliot, 1 Ruben Botes.
EG Jansen: 15 JJ van Rensburg, 14 Liam Hector, 13 Duwayne Zeekoei, 12 Dian Botha, 11 Conor Louw, 10 Juan van Aswegen, 9 Joseph Diesel, 8 Juan Harris, 7 Jaco Engelbrecht (kaptein), 6 Aljay Olivier, 5 Ivan Botha, 4 Ewan Pretorius, 3 Elshaan Duminy, 2 JC du Toit, 1 Marlo van der Merwe.
Skeidsregter: Hernus Coetzee.
